2 Korintiërs 1: 3-11

Daar is drie dinge wat Paulus se hoop sterker maak: God, gebed en betrokkenheid by ander. Eerstens die geloof dat God uit doodsgevaar red en weer sal red. Hy put groot krag daaruit dat God uitkoms gee, en dit bemoedig hom om enduit te volhard. Die uitkoms is nie geleë in die wegneem van gevaar nie, maar eerder daarin dat hy kan moedhou en vasbyt. Toe Paulus in doodsgevaar was, het hy geleer om op God te vertrou wanneer hy self niks meer kan vermag nie.

Tweedens word Paulus se hoop gevoed deur die gebede van medegelowiges. As hy hoor hoe ander gelowiges vir hom bid, ervaar hy God se krag.

Derdens is daar die betrokkenheid by mekaar se leed. Paulus ontdek toe die geheim dat wanneer hy passievol betrokke raak by ander se swaarkry, sy eie lyding betekenis kry, want om swaarkry te deel, maak gelowiges sterker. Paulus het vanuit hierdie hoop geleef vir ander.

Dink vir ’n oomblik na wat met jou geloof gebeur wanneer jy stories hoor of lees of vertel van God wat mense gered het uit moeilike situasies. Beter nog, wanneer jy kan onthou en vertel van hoe God uitkoms gegee het. Dink verder na oor die kragtige uitwerking op jou gemoed wanneer jy weet en sien en lees dat ’n klomp mense vir jou bid. Het dit jou krag gegee om te volhard? Laat gaan dan jou gedagtes oor hoe dit jou gemotiveer het toe jy betrokke geraak het by hulp aan ander. Toe jy gestop het en vir iemand anders iets gedoen het. Enigiets, van ’n geldjie vir ’n karwag, ’n kospakkie, om ’n sieke te versorg – ja, selfs net om iemand te help met inligting of raad.

Die teoloog Jürgen Moltmann het gesê hoop word gebore wanneer ’n mens bo sy eie wanhoop uitstyg deur betrokke te raak by die vreugde en die pyn van ander. Hoop groei in kommunikasie met die naaste. Dus realiseer hoop onder andere in verhoudings met ander.

Ds Danie Taljard, Sionshoogte

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link