Lukas 10: 38-42
Hierdie teks se agtergrond lê in die gemeenskapswaardes van eer en skande. Marta voel dat Maria, wat aan Jesus se voete gaan sit en luister, nie doen wat van haar verwag word nie. Sy vervul nie die rol wat deur die samelewing aan haar as vrou toegeskryf is nie. Die wêreld van vroue was ’n private wêreld wat nie na buite gelewe is nie, maar na binne, na die behoeftes van die familie en die huisgesin. Die mans se wêreld was ’n wêreld na buite, na die publiek.
Marta voel dat Maria besig is om die familie se eer aan te tas. Nie net laat sy na om die rol wat aan haar toegeken is te vervul nie, maar sy het ook die manswêreld betree deur by Jesus se voete te gaan sit en luister. Om te sit en luister na die woorde van ’n leermeester, was gewoonlik iets wat net vir die mans beskore was, want dit was volgens die kultuur van daardie tyd net die mans wat daarby baat kon vind.
Jesus probeer vir Marta perspektief gee. Jesus probeer Marta se aandag fokus op dit wat regtig saak maak, op dit wat ewigheidswaarde het. Jesus sê vir Marta dat Maria gekies het vir die beste deel. Die beste deel is gemeenskap met God, ’n verhouding met Jesus, gefokus op Jesus, en dan per definisie ’n verhouding met God.
Om aan die voete van die Here te sit soos Maria, maak dit vir ons moontlik om alles in ons lewens in perspektief te plaas, maak dit vir ons moontlik om ook waarlik naaste te kan wees vir ’n ander. Wanneer ons gefokus bly op God, op ons verhouding met God, verander dit ook ons verhouding met mekaar en na die wêreld. Dit word dan vir ons moontlik om raak te sien dat die mense in ons lewens belangriker is as die dinge in ons lewens. Ons behoort tyd te maak vir God en vir mekaar. Dan kies ons ook die beste deel!
Ds Marike van der Merwe, Beroepafwagtend
