Matteus 4: 19 

Om Jesus Christus te volg, beteken dat ek as gelowige tot sy beskikking moet wees in my leefwyse en keuses. God roep my en jou om ’n voorbeeld te wees in hierdie deurmekaar wêreld. Ons almal het ’n groot opdrag: Gaan en verkondig die blye nuus, die evangelie van Jesus Christus. Gaan verkondig dit deur woorde, maar ook deur dade, soos ons liefde en omgee vir mense in nood.

Hierdie roeping verander ons lewens. Dit versterk ons geloof en dit versterk ons verhouding met ons geliefdes en ons naaste. Hierdie roeping en hierdie opdrag behoort die dryfkrag in ons lewens te wees. Ons besef dat daar nie kortpaaie of ompaaie na God toe is nie. Daar is net een pad en dit is deur Jesus Christus. Hy is die weg, die waarheid en die lewe.

Om Jesus te volg, is ’n lewenslange besluit wat ons moet maak. Ons word pelgrims, dissipels en reisigers genoem. Ons is op soek na rus, vrede, kalmte en antwoorde op ons daaglikse vrae. In Matteus 4: 19 staan daar geskrywe: Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

Jesus spreek in genadetaal. Hy praat ’n taal wat lewegewend is. Hierdie woorde het ons lewens vir altyd verander. Hierdie woorde is ’n uitnodiging wat ons, jonk en oud, in ’n lewende, intieme en passievolle verhouding met die Here Jesus Christus bring.

Ds Tiaan Loedolff, Vaalwater

af
af
Copy link