Filippense 2: 5-11

In die museum by Checkpoint Charlie – die hek tussen die voormalige Oos- en Wes-Berlyn – is daar foto-uitstallings en aandenkings van talle pogings om uit kommunistiese Oos-Duitsland na Wes-Duitsland te ontsnap. Party vlugtelinge het versteek in voertuie by die hek probeer deurgaan, ander het bo-oor die berugte Berlynse muur probeer kom, of selfs onderdeur. Sommige het geslaag; die meeste het misluk.

Een van die suksesverhale vertel van die tonnel wat 12 ouer manne onderdeur die muur gegrawe het. Hulle was almal in hul sewentigs en tagtigs. So ’n tonnel van 32 meter waardeur ’n mens kon kruip, sou seker min of meer ’n week neem om te grawe. Dit neem hulle egter veel langer, want hulle grawe dit 1,8 meter hoog. Nadat almal veilig deurgestap het, word hulle deur die media in Wes-Berlyn gevra waarom hulle die tonnel so hoog gemaak het. Hul antwoord: Ons het besluit ons vroue gaan nie na hul vryheid kruip nie!

Wat Christus vir ons kom doen het, is die rede waarom ons voor niks en niemand hoef te kruip nie. Ons lees in Psalm 40: Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Ja, Hy, die Ewige, die Almagtige, het na óns toe afgebuig. Volgens Filippense 2: 7 het Hy Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word – ’n nederige geboorte, ’n lewe van diens waartydens Hy misverstaan, verag en verguis is, en toe is Hy nog verder verneder aan die kruis, en daarna het Hy neergedaal tot in die diepste doodsverlatenheid…

En so grawe Hy, by wyse van spreke, ’n tonnel hoog genoeg vir ons om regop, trots en kop omhoog deur te stap. Ons hoef nie te kruip nie. Sy lyding en vernedering was erg; sy offer volkome. So buig Hy na ons toe af, en verhoog ons tot die hemeltroon. Staan op uit die stof, lig jou kop op, en kyk die wêreld in die oë. Ons is nou vry!

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap