Psalm 138 (AFR2020)
Die digter van Psalm 138 gee aan God dank en eer op drie verskillende terreine. Eerstens, met sy hele hart, prys die Psalmdigter God voor die gode. In Psalms 135 en 136 kry ons soortgelyke uitsprake: …dat ons Heer groter is as al die gode (Ps 135: 5); Prys die God van die gode (Ps 136: 2). Sulke frases is algemeen in die Ou Testament en weerspieël die antieke mense se verstaan van gode. Daar is baie gode, maar hiermee getuig die Psalmdigter voor al hierdie ander gode dat dit net God, die Here van Israel, is wat werklik geprys en aanbid moet word. Hoekom? Oor sy troue liefde, omdat Hy sy beloftes nakom, omdat Hy antwoord wanneer ons om hulp roep, en omdat Hy ons innerlik versterk.
In vers 4 verskuif die Psalmdigter se singende dankbetuiging na die aardse konings. Wêreldse regeerders, wat hul koninkryke uitbou en mag versamel, behoort die Here te prys en oor sy heerlikheid te sing. Nie oor hul eie nie. Hulle moet besef die Here is ver verhewe bo mense, en Hy verkies nederigheid bo hoogmoedigheid. Laastens, vanaf vers 7, prys en eer die Psalmdigter God selfs voor sy vyande. Selfs hier waar hy teenspoed en uitdagings ervaar, is hy dankbaar oor en bewus van God se troue liefde en nabyheid.
Die digter van Psalm 138 vier die Naam, getroue liefde, standvastigheid en sorg van God op al die verskillende plekke in sy lewe. Ons behoort God te loof en te eer, hetsy in ons geestelike binnekamers, buite in die chaotiese sosiale, politieke en ekonomiese wêreld, en te midde van ons daaglikse beproewings, probleme en uitdagings. Die Psalmdigter herinner die gelowige dat God die God is wat onthou en omgee, en dat God lof en eer waardig is, waar ons ons ook al bevind.
Gebed
Here, mag ons waar ons ons ook al bevind in hierdie lewe, U ook met ons hele hart loof en eer. Here, mag ons by die werk, op straat, in winkels, by die skool, in ons huise, op die internet, altyd getuig van u troue liefde, sorg en grootheid. Amen.
Ds Erika Ferreira, Bellville