Lukas 2: 25-35

Epifanie is ’n Griekse woord wat verskyn beteken. Verskyn het hier ’n besondere betekenis. Ons kan hier dink aan ’n teater met oop gordyne sonder iemand op die verhoog. Agter die gordyn is die akteurs vir ons nog onsigbaar, totdat iemand verskyn en sigbaar word. Verskyn beteken dat die werklikheid wat onsigbaar was, nou sigbaar word.

In die Epifanietyd word in die kerk nagedink oor die verskyning van Jesus in die wêreld. Jesus, onsigbaar en onkenbaar, tog was Hy altyd daar. Met sy geboorte het Hy die wêreldse verhoog betree. Niemand het geweet wie die Baba is wat in Betlehem gebore is nie. Iemand moes Hom aan die wêreld voorstel.

Hierdie voorreg het Simeon te beurt geval. Simeon het in Jerusalem gewoon. Hy was ’n getroue gelowige. Simeon was bewus van die belofte van God dat ’n Verlosser sou kom. Simeon was ook begenadig en het die wete van die Heilige Gees ontvang dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here sou sien nie. Simeon het die dag na die tempel opgegaan. Daar het hy die ouers van die Kindjie Jesus ontmoet. Hy kon die Kindjie in sy arms hou.

Met die Kindjie in sy arms, het Simeon die Here geprys. Met hierdie lofprysing het Simeon op besondere wyse vir Jesus aan die wêreld voorgestel. Simeon was tevrede dat hy begenadig was om met sy eie oë u verlossing te kon sien, die verlossing wat lank terug belowe is, wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke. Simeon stel die Kindjie, Jesus, verder voor as ’n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.

In sy voorstelling van wie hierdie Jesus is, verbind Simeon twee sake. Eerstens is hierdie Jesus ’n lig vir die nasies, die heidene en die wêreld, en tweedens is Hy hier tot eer van Israel. In hierdie Epifanietyd kan ons verseker wees dat daardie Jesus, in Simeon se arms, ook ons Lig, ons eer en ons Verlosser is.

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

af
af
Deel met behulp van
Copy link