Psalm 127

Die pelgrimspsalms help ons om diep na te dink oor hoe ons ons lewe moet leef. Psalms 127 en 128 vind aansluiting by die wysheidsliteratuur in die Bybel (vgl die boek Spreuke). Die begrip wysheid dui op lewensinsig, lewenskunde.

Psalm 127 is ’n saamgestelde lied (verse 1-2 en 3-5). Albei dele getuig van wat God doen en hoe dit ons help om onsself en die lewe te verstaan. Die wysheidsuitsprake word soos boublokke gestapel: God gee aan die stadsbouers krag en vaardigheid; aan die bewakers die nodige oplettendheid of waaksaamheid; aan die arbeider wat swoeg en sweet om aan die lewe te bly die nodige lewensmiddele. Aan die gelowige gee God seuns wat hul vader kan bystaan. Hierdie uitsprake wys op die beslissende betekenis van God se handeling in mense se lewens. Dit maak menslike handelinge moontlik en betekenisvol.

As mense reken hulle kan alles op hul eie vermag, is hul pogings tevergeefs. Ons weet dit ook maar alte goed, want dikwels voel ons asof daar geen betekenis en sukses in ons doen en late is nie.

Die laaste reël van die eerste deel van die Psalm is deurslagewend vir die verstaan daarvan: Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap. Dit kan ook só vertaal word: Hy gee slaap aan dié wat Hy liefhet (God gee rus). Dit beteken nie dat die mens se insette onnodig is omdat God in elk geval sou gee wat die mens self wou of nie kon bereik nie. Die regte lewensinsig is om afstand te doen van ’n ingesteldheid van ek moet alles self vermag en so die voorsienigheid van God, en ook God self, buite rekening te laat. Die regte gesindheid is die vertroue dat God voorsien wat ons nodig het – ons eie verantwoordelikheid nie uitgesluit nie.

Dit sal goed wees om net weer te gaan lees hoe Jesus hierdie insig tuisbring (Matt 6: 25-34): Vra allereers na die koninkryk en wil van God, en God sal voorsien wat julle nodig het.

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link