Genesis 16: 1-16 (AFR2020)
Ek wil van geweet wees, Ma! Dié wanhopige kreet van die jonge Tiemie in PG du Plessis se klassieke Siener in die Suburbs laat ’n mens onwillekeurig dink aan Hagar – ’n vrou wat ook so graag van geweet wou wees, maar gevoel het niemand gee ’n snars vir haar om nie.
Sy was ’n Egiptiese meisie wat ver van haar eie land ’n slavin in diens van Sarai was. Omdat Sarai nie kon kinders hê nie, het sy gedink dit is ’n goeie plan om, volgens die gebruik van die tyd, vir Hagar as vrou aan Abram te gee sodat sy vir hom ’n kind kan gee. Maar toe Hagar agterkom sy is swanger, begin sy neersien op Sarai. Die gevolg is dat Sarai haar begin mishandel het, en Hagar vlug.
Langs die pad, by die fontein op pad na Sur, ontmoet die Engel van die Here haar en beveel haar om terug te gaan na Sarai en haar aan haar gesag te onderwerp. Die Engel belowe dat sy ’n groot nageslag gaan kry, en sy kry ook by die Engel ’n naam vir haar seun: Ismael. Dit beteken God hoor, want die Here het van haar mishandeling gehoor. Ons lees in Genesis 16: 13: Hagar het toe die naam aangeroep van die Here wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. En so word sy bewus van El Roï, die Hebreeus vir: Die God wat my sien. Hagar het besef dat God van haar weet.
En dit herinner ons: God sien jou! Hy sien jou trane. Hy sien jou kwellinge, jou kommer, jou onsekerheid, jou wanhoop, jou pyn. God sien jou – maak nie saak hoe donker die nag vir jou geword het nie, God sien jou. Ongeag in watter woestyn jy jou bevind – God sien jou. Maak nie saak hoe diep die put is waarin jy beland het nie – God sien jou.
Wil jy ook van geweet wees? Weet jy wat? Daar is Iemand wat van jou weet, wat elke oomblik van elke dag aan jou dink. Hy sien jou! En in sy oë is jy baie spesiaal!
Dr Johan van Staden, Sionspoort
