1 Petrus 1: 3-9

Ons word elke dag gekonfronteer met die werklikhede, ook die slegte nuus, van ons tyd. ’n Nuusberig wat oor die televisie uitgesaai word, word gou op die sosiale media se WhatsApp- en Twitter-platforms die gesprek van die dag. Kort voor lank weet almal daarvan en het die berig sommer ’n paar stertjies bygekry. So word die land of die wêreld se probleme ons probleme. Ons persoonlike probleme word deel van hierdie ervarings, en kort voor lank lyk die lewe vir ons donker en uitsigloos.

Hierdie ervarings laat ons smag na hoop om weer ons lewe met entoesiasme aan te pak. Ons gryp dan ook dikwels na die antwoorde en oplossings van ons tyd wat aangebied word, net om weer teleurgestel te word. Ons Skrifgedeelte praat met soekende mense soos ons en wil ’n boodskap van nuwe, lewende hoop in die harte van mense vestig te midde van hul ervarings in die lewe. Ons lewenservarings kan so maklik ’n ingesteldheid van moedeloosheid en wanhoop kweek wat ons hele lewe en toekoms kan beïnvloed.

Die enigste manier om hoop te hê, al is daar beproewings in die lewe, is om vas te hou aan die boodskap van Jesus Christus wat opgestaan het. Die opstanding van Jesus verander alles, dit gee vir ons ’n nuwe lewe en ’n lewende hoop. Vir Petrus is hierdie daad van Jesus en die impak wat dit het op die lewe van dié wat in Hom glo so groot dat dit hulle vul met ’n onverganklike hoop. Die troos is dat die Here ons wat glo, in hierdie lewe te midde van al die beproewings bewaar, met die oog op die ewige lewe.

Ons kan elke dag met hoop en vreugde aanpak, want ons behoort deur die opstanding van Christus aan die lewende God. Ons uitdaging is om na die wêreld te kyk vanuit ons geloof en die sekerhede van God se beloftes, en nie vanuit die slegte nuus van elke dag nie.

Gesang 588: 1, 3

Ds Adriaan Roets, Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link