Galasiërs 5: 13-26
Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal (Gal 5: 25). As ons hierdie vers letterlik uit die Grieks vertaal, staan daar: “As ons leef deur die Gees, laat ons ook wandel/loop deur die Gees”. Om deur die Gees te loop, beteken dat jy die doelbewuste keuse maak om in alles wat jy sê en doen – in jou totale optrede – tot eer van God te leef. Dit is tot hierdie bewustheid van ’n lewe in en deur die Heilige Gees dat Paulus die Galasiërs wil aanspoor.
Paulus kom tot die ontnugterende besef dat die gelowiges in Galasië se lewe nie in ooreenstemming is met die genade wat God aan hulle in Christus bewys het nie. Hulle leef nog asof hulle onder beheer van die vlees, die sondige natuur staan. Dit word gesien in die gelowiges se gedrag teenoor mekaar. Die sondige natuur waarvan Paulus hier praat, kan ons ook beskryf as daardie natuurlike instink, ’n mens se outomatiese reaksie, wat eerder die verkeerde as die goeie wil doen. Daardie instink wat alles wat jy doen, só doen dat dit jouself bevoordeel.
Hierteenoor staan die nuwe lewe in die Gees. Dit is ’n lewe waarin God verheerlik word en wat jou naaste tot seën strek. Gelowiges kies om nie te lewe volgens daardie outomatiese menslike instink wat die vrug van die sonde voortbring nie, maar om toe te laat dat die Gees van God ons lewe bepaal. So word die sondige, vleeslike leefstyl vervang met die vrugte van die Heilige Gees.
Vanuit hierdie perspektief gesien, is die vrugte van die Gees nie maar net ’n lysie van dinge wat ons moet doen nie. Dit word deugde, waardes, beginsels, wat ons in ons totale bestaan beliggaam. Dit word ’n opdrag waardeur ons met woord en daad in diens van God ons geloof uitleef. Alles kom vir Paulus neer op ’n lewe deur die Gees. Die Heilige Gees maak ’n Christelike, gelowige lewe moontlik:
Die Here salf ons met sy Gees
tot diens en heiligheid,
tot koning, priester en profeet –
tot ware Christenwees.
(Gesang 440: 1)
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom
