2 Korintiërs 4: 7-15

Nadat ons gister gekyk het na ons hoop op die ewige lewe, kyk ons vandag na ons lewe as gelowiges op ons pad daarheen. ’n Geleerde het op ’n keer gesê: As jy die lewe wil bewaar, berei jouself voor op die dood. Lewe en dood hoort bymekaar soos die kop- en stertkant van ’n muntstuk. Hulle staan teenoor mekaar, maar albei behoort tot dieselfde muntstuk.

Daarom het ’n mens soms die gewaarwording dat die voor- en teenspoed van jou lewe eenvoudig nie sin maak nie. Partymaal word dinge net te veel en voel dit of jy aan die einde van die pad gekom het. Tog is daar hoop. Paulus verduidelik dit aan die hand van die beeld van ’n kleipot en die skat in die pot. Hy vergelyk ons aardse lewe met ’n kleipot wat maklik breek. In die werklike lewe van die Bybelse tyd het kleipotte ’n belangrike rol gespeel om kosbare vloeistowwe soos olie en wyn in te bêre, maar as jy die kleipot omstamp en dit breek, vloei daardie kosbare skat in die grond in weg, en die skat is dus verlore.

Die brose aardse mens het ook ’n skat in hom en haar, en vir ons voel dit ook soms of jou lewe in duisend stukke uitmekaar breek soos die kleipot wat omgestamp word. Die verskil tussen die skat in die aardse kleipot en die skat in ons, is egter dat hierdie skat nie in die grond in wegvloei as ons lewe uitmekaar breek nie. Hierdie skat in ons wat van God af kom, is die krag wat weer die stukke van ons lewe bymekaar en heel maak. Dit is hoekom ’n mens ten spyte van verdrukking nie terneergedruk word nie, en al is jy oor raad verleë, nie radeloos word nie.

Waarop dit neerkom, is dat jy jou nie blindstaar teen al die terugslae van die lewe nie en ook nie tou opgooi uit moedeloosheid nie. Vir die gelowige is daar altyd ’n toekoms saam met God wat ons liefhet deur alles heen. Waar daar hoop is, is daar ware lewe.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link