Romeine 8: 22-23
Het jy al opgelet hoeveel keer ’n dag jy sug? Watter woorde lê verskuil agter daardie sug? Is dit ’n sug van moedeloosheid of bekommernis wat so swaar op jou skouers rus? Of kan dit ook ’n sug van verligting wees? Baie mense meen, indien jy ’n Christen is, word jy gevrywaar van alle seerkry en swaarkry in die lewe. Tog is ’n kind van God se lewe ook vol swaarkry, en daarom sug ons baie keer.
Dit is egter nie net ons wat sug nie. Die skepping, medegelowiges en die Heilige Gees sug saam met ons. Ken jy dié uitdrukking? Waar daardie sug val, groei niks weer nie? Dit is nie waar nie, want elke sug wat ons gee, word gehoor en verhoor. Met die Heilige Gees wat in ons woon, kan God nie anders nie as om te hoor wanneer ons sug. Selfs daardie sugte wat ons nie in woorde kan beskryf nie, hoor God.
Die Heilige Gees hoor egter nie net ons gesug nie. Hy bring ons sugte na die Vader toe en pleit vir ons by God, en so word God bewus van ons swaarkry, seerkry en bekommernisse sonder dat ons dit sê.
Hierin lê vir ons nie net hoop nie, maar ook ’n stuk vertroosting. Vertroosting dat God sien en hoor wat in ons harte omgaan en wat ons werklike behoeftes is. Hoewel God nie altyd gee wat ons begeer nie, gee Hy wat ons nodig het. Voorsien Hy ons daaglikse brood.
Ons hoop is gewortel in die wete dat ons swaarkry en gebrokenheid net tydelik is, want God gaan sy kinders van die gebrokenheid van hierdie wêreld bevry wanneer Hy ons liggame eendag opwek en lewend maak. Hierdie verwagting is nie maar net ’n vae moontlikheid nie, maar ’n sekerheid vir elkeen wat bely dat Christus die Here is.
As ons weer sug, laat ons mooi dink oor wat ons eintlik met die sug wil sê: Dankie, Here, vir die hoop wat in ons harte leef; of verhoor tog ons gebed en gee ons vrede.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes
