Markus 9: 38-41

Dit is ironies dat die dissipels kla oor ander mense wat bose geeste uitdryf in Jesus se Naam, wanneer hulle nie lank vantevore (soos in Mark 9: 18) dit self nie kon regkry om bose geeste uit te dryf nie. Hulle kla omdat die mense wat dit gedoen het, nie deel was van hul volgelinggroep nie. Ons monde is ook elke nou en dan vol klagtes oor ander gelowiges omdat hulle nie deel is van ons kerk of groep nie.

Maar Jesus vermaan die dissipels oor hul gesindheid. Hy sê dat hulle verdraagsaam moet wees teenoor ander gelowiges, selfs al is hulle nie in jou groep, kerk of amp nie. Hulle werk mos ook vir Jesus. Wie nie teen ons is nie, is vir ons. Ons word in Jesus Christus aan mekaar gebind. Daarom moet ons fokus op Jesus Christus wees. Ons moet versigtig wees daarvoor dat ons so fokus op die dinge wat ons van ander onderskei, dat ons fokus nie meer op Jesus is nie. Dit is dan beter om te fokus op die dinge wat ons met mekaar gemeen het as die dinge waaroor ons verskil. En as Jesus Christus die Een is wat ons met mekaar gemeen het, fokus dan op Hom!

Die geloofsbelydenisse het juis dit ten doel – om gelowiges in verskillende gemeentes en verskillende kerke aan mekaar te bind deur die belangrikste inhoud van ons geloof. Kerke oral in die wêreld bely saam met ons elke Sondag hul geloof deur hierdie ekumeniese geloofsbelydenisse. Kom ons fokus eerder op Christus, wat ons gesamentlik bely, as op die paar praktyke of tradisies waaroor ons verskil. Kom ons verdra mekaar, want ons is saam vir Jesus. Boonop sê Jesus dat dié wat op grond van sy Naam gasvry teenoor medegelowiges is, beloon sal word.

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap