2 Korintiërs 1: 3-7

Paulus skets ’n prentjie van ’n Vertrooster-God, ’n Here wat ons bemoedig en versterk, ’n Here by wie ons kan huil. Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons (2 Kor 1: 3). Ons het baie maal ’n verwagting dat God aan ons gerief moet bied, dinge vir ons makliker moet maak. Ons wil hê ons geloof in God moet ons beskerm teen die seerkry van die lewe. Dit is vir ons moeilik om te aanvaar dat seerkry deel is van elkeen van ons se lewenspad. Wanneer daar seerkry oor ons pad kom, vra ons ontnugter en ontredderd: Waar is die God van liefde dan nou? Hoe kan ’n liefdevolle Here dan só optree?

Paulus gee perspektief. Hy aanvaar dat moeilike omstandighede sal opduik, maar glo onwrikbaar dat God ook daarin langs ons staan, ons vertroos. Ons Here moedig ons aan om weer op te staan. Hy gee ons krag wanneer ons dit die minste verwag.

Met hierdie vertroue in ons Vertrooster-God, mag dié Gebed van ’n onbekende soldaat ook ons gebed wees:

Here, ek het krag gevra sodat ek baie kan bereik.  

Ek het swakheid ervaar sodat ek nederig kan leer

om gehoorsaam te wees.

Ek het gesondheid gevra sodat ek groot dinge kan doen.

Ek het seergekry sodat ek nog groter dinge kan doen.

Ek het rykdom gevra sodat ek gelukkig kan wees.

Ek het armoede ondervind sodat ek wys kan word.

Ek het mag gevra sodat ek die bewondering van mense kan beleef.

Ek het my eie swakheid leer ken en besef hoe groot U is.

Ek het vir baie dinge gevra sodat ek die lewe kan geniet.

U het vir my Lewe gegee sodat ek baie van die lewe kan geniet.

Here, U het vir my niks gegee waarvoor ek gevra het nie,

maar alles waarvoor ek gehoop het.

Ten spyte van myself is my gebede verhoor.

Hoe ryklik geseënd is ek nie! Amen.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link