Romeine 12: 9-21 (2)

Kan die kringloop van geweld gebreek word? Almal weet, in hierdie kringloop is daar nie wenners nie. Net verloorders, want slagoffers word dikwels weer daders, en daders word weer slagoffers, en so hou dit aan. Geen wonder nie dat baie Suid-Afrikaners wanhoop en hulself probeer afsluit van ons gewelddadige samelewing. Hulle raak so stom, geskok-passief dat hulle hul verantwoordelikhede teenoor die samelewing prysgee… en so gaan die kwaad en geweld voort van erg na erger!

Kan hierdie siek spiraal gebreek word? Dit kan! Trouens, nie net die kringloop van geweld kan gebreek word nie, maar die hele verrotte skema van kwaad. Lees weer vers 21. In alle opsigte merkwaardige woorde. Paulus weet hoe skynbaar onbreekbaar die skakels in die kettingreaksie van die kwaad en geweld is. Hy weet ook hoe swak en broos die mens (ons) is, mense wat van nature geneig is om deur die Bose bekoor te word.

Feit is egter, die kwaad kán gekeer word, want die kwaad is in beginsel reeds oorwin. God het die bose magte ontwapen. Hy het hulle openlik ten toon gestel en bespotlik gemaak deur hulle mee te voer in die triomftog van Jesus Christus (vgl Kol 2: 15). Jesus hét die sonde en die dood oorwin. Daarom is hierdie oproep van Paulus nie ’n leë bevel of ’n onhaalbare droom nie. Die kwaad is reeds verslaan. Op grond daarvan kán ons anders optree as wat die kwaad sou verwag: met liefde, versoening, vrede, die goeie. Die teoloog Dietrich Bonhoeffer sê hieroor: In die nuwe kringloop van die liefde word die kwade tot stilstand gedwing. Omdat dit nie die weerstand vind waarna dit soek en waarom dit roep nie, word dit veroordeel deur sy onvermoë om teengeweld uit te lok, kan die kwade nie sy merk vind nie, kan dit geen verdere boosheid uitbroei nie, word dit onvrugbaar gelaat, is sy angel uit. Laat ons dan op grond van die evangelie nee sê vir geweld, nee vir die kwaad, en ja vir die goeie, ja vir God!

Dr Christo van der Merwe, Emeritus

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link