Markus 6: 37
Kos is vir baie van ons een van die hoogtepunte van ons dag! Dink maar net ’n bietjie aan die rol wat kosmaak, en die lekkerte van aansit om die tafel vir ’n ete, in ons lewens en huishoudings speel. Dit gaan oor die voorsiening in ons fisiese behoeftes, maar ook oor die lekker saameet, saamkuier, geselskap en saamlag.
Vir Jesus was kos ook baie belangrik! Nie net vir Homself en sy eie gebruik nie, maar veral om dit te deel met mense wat werklik honger was. In die verhaal in Markus 6 sien ons dat Jesus mense wil voed. Jesus se dissipels was benoud oor al die mense, en het vir Jesus gesê om hulle weg te stuur om vir hulself kos te gaan koop. Jesus het toe daarop gereageer: Gee julle vir hulle iets om te eet. Ons ken die einde van die verhaal waar Jesus toe die kos vermeerder het om ’n honger skare te voed.
Daar is twee belangrike lesse vir ons in die gedeelte. Die eerste is om te besef dat Jesus se hart uitgaan na mense in nood, alle vorme van nood, veral ook kosnood. Die opdrag om mense te voed, is aan sy dissipels van daardie tyd gegee, maar ook vir sy dissipels en sy kerk van vandag. Die tweede saak: Dis opvallend hoe baie Jesus kon doen met so ’n klein bietjie kos wat beskikbaar gestel is. Mense is honger, fisies en geestelik. Jesus se opdrag is baie duidelik aan ons in hierdie teksvers, om veral in ons tyd uit te gaan en vir hulle kos te gee.
Gebed
Here, dankie vir al u voorsiening. Dankie dat ons daagliks kos het om te eet. Ons harte gaan uit na dié wat dit nie het nie. Help ons om u opdrag, Gee julle vir hulle iets om te eet, met deernis uit te voer. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
