Jakobus 2: 14-26

’n Belangrike deel van ons menswees het te make met die feit dat ons smag na hoop. Alle mense smag na iets of iemand waarin hulle hul hoop kan plaas. Ons samelewing plaas ’n legio opsies (materieel, emosioneel of geestelik) voor ons voete neer, wat die belofte maak dat dit ons hoop waardig is. Hierdie opsies is egter dikwels verganklik en ekstern. Ons dink so dikwels dat hoop iets is wat ver weg buite onsself lê, maar wat as die Here ons as agente van hoop wil gebruik in sy koninkryk? Wat as die Here deur my en jou lewens hoop wil bring in ander se lewens?

In Jakobus 2 praat die skrywer oor geloof wat nutteloos is as dit nie tot dade oorgaan nie. Die skrywer begin hierdie gedeelte deur juis te vra: Wat help dit as mense beweer hulle glo, maar dit word nie deur hul dade bevestig nie? Die skrywer antwoord self die vraag deur ’n kort verhaal te vertel van iemand wat in nood verkeer en vir wie daar allerhande mooi dinge gesê en mooi wense toegewens word, maar daar word geen verskil in daardie persoon in nood se lewe gemaak nie.

Jakobus se boodskap is eenvoudig dit: Soos wat Jesus Christus vlees en bloed geword het met sy geboorte op aarde, so wil Hy ook vlees en bloed word deur ons lewens. Ons is die Here se hande en voete in hierdie wêreld. Hy wil ons gebruik om hoop in ander mense se lewens sigbaar uit te leef, en daarom is ons agente van God se hoop op aarde. Dis natuurlik belangrik om te glo dat Jesus Christus God se hoop vir die wêreld is, maar as ons daardie hoop nie sigbaar uitleef nie, as daardie hoop nie vir mense tasbaar gaan word nie, hoe gaan die wêreld dit sien en ervaar?

Ds Steve Oxton, Wapadrant

Share via
Copy link
Powered by Social Snap