1 Petrus 5: 8-11
As ons lees van die brullende leeu, sal ons dadelik dink dat Petrus praat van die Romeinse keiser of die heidene in hul samelewing. Dis ’n fout. Dit is nie hulle wat die groot bedreiging was vir hierdie jong Christene nie. Die groot gevaar lê op ’n ander plek en ’n mens skrik as jy hoor dat daardie gevaar eintlik binne jouself is. Dis my eie sondigheid, my eie feilbaarheid, my eie swakhede.
As daar ’n kwaai hond na my toe aangeloop kom, dan weet ek dadelik dat hy gevaarlik is. Hierdie hond wys sy tande vir my en sy oë lyk wild. Ek gaan so vinnig moontlik probeer wegkom. Ek gaan almal rondom my waarsku en ek gaan probeer om hulp te kry. As ek weet iets is gevaarlik of ek verwag die ergste, dan is ek mos ekstra versigtig. Ek let mooi op en ek is altyd gereed. Maar dit is wat hiérdie brullende leeu so gevaarlik maak: Ek weet nie hy is gevaarlik nie. Dink so daaroor: As ek jou nie vertrou nie, gaan jy sukkel om my om die bos te lei. Ongelukkig kan ek myself baie maklik flous. Ek sien jou foute en oortredinge vinnig raak, maar ek dink dat my eie sondes minder verkeerd is. Die volle leuen gaan my nie sommer oortuig nie, dis nie so gevaarlik nie. Dis die halwe waarheid, die eensydige skinderstorie, die verdraaide beginsel waarvoor ek versigtig moet wees. Dis nie die kwaai hond wat op my afstorm wat gevaarlik is nie, dis die duiwel wat saggies in my oor fluister en vir my die dinge vertel wat ek graag wil hoor.
Gebed
Here, help my vandag om die werklike gevaar raak te sien, die dinge binne myself wat my van U kan vervreem. Gee vandag vir my die insig wat ek nodig het. Help my om vas te staan. Help my om wakker en nugter te wees, sodat die brullende leeu my nie sal verskeur en verslind nie. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust