Romeine 8: 18-30

Paulus begin hierdie gedeelte deur twee sake met mekaar te vergelyk. Enersyds die lyding van nou. Dit is die lewe met sy swaarkry van die huidige tyd, die tyd wat eindig met Christus se tweede koms. Die apostel dink aan alle swaarkry van die huidige tyd, die tyd wat eindig met Christus se tweede koms. In die wêreld beleef ons pyn, siekte, teleurstelling, werkloosheid, armoede, hartseer, noem dit op. Teenoor hierdie lewe in die huidige tydsgewrig, hierdie lewe in ’n stukkende wêreld, stel hy dan die lewe wat God vir sy kinders in die toekoms belowe. Dit is ’n lewe in onbeskryflike heerlikheid. Hierdie toekomstige heerlikheid word nie net aan ons geopenbaar nie, maar deur die kragtige werking van die Heilige Gees in ons geopenbaar. Dit is so ’n oorweldigende heerlikheid dat die skepping, die mens en die Gees in groot afwagting sug.

Die hele skepping sug in pyne van verwagting. Die sonde van die mens laat die ganse skepping stukkend en verganklik. God se reddende genade werk so kragtig, dat die skepping tot sy aanvanklike glorie herstel sal word. Ook die mens verlang na hierdie volmaaktheid. Ons kan nie wag om die allesoortreffende heerlikheid te ontvang nie.

Terwyl ons hierdie lyding verduur, bly ons hoop. Ons hoop op ’n heerlike lewe met God. Eendag sal ons heeltemal van sonde bevry wees, heeltemal verander word, sodat ons aan Jesus Christus self gelykvormig kan wees. Op daardie dag en daardie verandering bly ons hoop. Ons Christelike hoop is ’n anker vir ons siel, veilig en seker. Ons hoop is gevestig op Jesus, ons voorganger wat reeds deur die hemele gegaan het. Geloof en hoop loop hand aan hand. Ons glo in Jesus Christus, in sy kruis en opstanding en die redding wat dit vir ons bring. Ons glo ook dat Christus ons lewende hoop is. Hy het immers ons plek gaan voorberei. Christus is ons waarborg dat daar vir ons ’n onuitspreeklike en heerlike toekoms wag. Daarom bly ons hoop.

Ds Willem Kok, Potchefstroom

af
af
Deel met behulp van
Copy link