Prediker 11 en 9: 1-10 (AFR2020)
Ons het hierdie week stilgestaan by verwondering en ontsag vir God, asook by sy werke in die skepping en met ons (sy kerk). Die wysheidsboeke fokus veral op die aard van die wêreld en God wat dit geskep het en beheer. Dit vra vrae oor waar die mens inpas in God se orde en hoe die mens behoort op te tree binne die Goddelike skepping.
Prediker probeer uitvind hoe dinge werk en of daar ’n voorspelbare patroon is. Telkens kom hy tot die besef dat die mens nie in staat is om die orde te onderskei nie. Dit is vir hom duidelik dat die tradisionele leerstelling van beloning en straf vir die goeie en die goddelose klaarblyklik nie werk nie.
Prediker 11 wys daarop dat mense nie in staat is om te voorspel hoe hul lewe gaan uitloop en of hul dade produktief sal wees nie. Alhoewel die mens nie die weer kan beheer nie en van God se werke minder verstaan as hoe lewensgees in ’n ongebore baba geplaas word, moet die mens aanhou werk en vreugde vind in hul arbeid, want dit is ook ’n gawe van God.
Prediker 9 wys daarop dat die dood die groot gelykmaker is. Elke organisme is onderhewig aan die dood. Dit sny deur alle kategorieë van moraliteit, stand en wese. Wat dan aan mense oorgelaat word, is om hul arbeid te geniet terwyl hulle lewe. Prediker gee ’n uitdruklike opdrag om die lewe aan te gryp. Hy noem die eenvoudigste dinge van die lewe – eet, drink, aantrek, liefhê – en sê dat selfs dit ’n gawe van God is. Werk is ook ’n geskenk van God, daarom behoort ons te doen wat binne ons vermoë is.
Wysheid beklemtoon dat God in beheer is, dat sy werke georden is, maar dat die mens te beperk is om dit te weet of te verstaan. In ons begrensdheid is om God te eer, beter as enige menslike vaardighede. Die onmag om ons lewe te beheer, gaan oor in verwondering oor en ontsag vir God – bokant ons begrip en verstand – tóg skenk Hy aan ons die lewe om te geniet.
Gesang 502
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria