2 Korintiërs 12: 1-10

Hoe weet ’n mens dat God se krag in jou werksaam is? Ons het al getuienisse gehoor van mense met buitengewone ervarings van God wat alle gebede verhoor en voorspoed moontlik maak as die geloof net reg is. Paulus gee in hierdie gedeelte antwoord op mense wat hulle beroem het op God se krag in hulle op grond van allerlei buitengewone belewenisse. Volgens Paulus het hy dit self beleef om weggeruk te wees tot in die hoogste hemel, tot by God; maar as dit oor werklike krag gaan, wil hy dit nie noem nie. Eintlik is hy so ongemaklik daaroor, dat hy van homself in die derde persoon praat. Hy was bang vir geestelike hoogmoed. Vir hom was die hoogtepunt van God se krag in sy lewe toe hy ernstig gebid het dat iets wat hom in sy werk gehinder het, weggevat moes word. Hy praat van ’n doring in die vlees, ’n boodskapper van Satan wat hom met vuiste slaan. Doring kan ook verwys na ’n paal, die kruis wat marteling bring tot die dood. Wat dit was, is onbekend, maar dit was die hoogtepunt van God se krag waarvan hy kon getuig, byna mee kon spog!

God se antwoord was nie ’n wonderlike ingryping om daardie las weg te neem nie, maar dat sy genade genoeg is omdat krag tot volle werking kom in swakheid. Genoeg was dit sodat Paulus ’n tevrede mens kon wees, byna trots, ten spyte van swakhede en baie ander struikelblokke. Dit kon so wees want hy het immers geweet van die oënskynlike swakheid van Jesus aan die paal van die dood waardeur die verstommendste krag ooit deurgebreek het, naamlik die krag wat Hom uit die dood laat opstaan het.

Wat weet jy? Daardie selfde krag is vir jou beskikbaar. Jy kan as ’n swak mens saam met Christus opstaan, nuut word en ’n nuwe status kry as kind van God. Dit is genade wat genoeg is om ook van jou ’n tevrede en opgewonde mens te maak.

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link