Kolossense 4: 2-6

Ons gelese gedeelte begin met Paulus se versoek dat daar in die gemeente met gebed volhard sal word. Volharding beteken om aan te hou al sien jy nie die resultate nie. Gemeentes en gemeentelede moet verstaan dat gebed nie die sleutel tot kitsoplossings is nie. Gebed vorm deel van die groter plan van God, daarom leer Jesus ons om te bid: Laat nogtans nie ons wil nie, maar u wil geskied.

Volharding is deel van gebedsverhoring. Het jy al moeg geword om vir iemand of iets te bid? Paulus moedig jou aan om te volhard. Boonop leer Paulus dat gebed nie allereers of oorheersend oor die eie behoeftes mag gaan nie. Eerstens gaan dit oor die wil van God, soos ook in verhoudings. Daarom word hulle aangemoedig om in gebed te fokus op die bediening en diens van die gemeente, maar ook op die werk van Paulus. Deur vir ander se behoeftes te bid, ontvang jy wat jy nodig het.

Ons weet Paulus is in gevangenskap, daarom kan ons maklik die aanname maak dat die versoek om gebed wat deure vir die woord oopmaak ’n gebed vir Paulus se vrylating is. Dit is nie die geval nie. Paulus se passie was die verkondiging van die Woord van God – altyd, oral en aan almal. Sou die gemeente se gebed verhoor word, beteken dit dat Paulus en sy volgelinge geleenthede sal kry om die evangelie aan almal te verkondig. Dit is juis Paulus wat erns gemaak het met God se opdrag dat die evangelie aan alle mense verkondig moet word. Paulus was die geroepe sendeling, en die gemeente kon betrokke raak by sy sendingbediening deur voorbidding daarvoor te doen.

Ten slotte roep Paulus die gemeente op tot optrede wat van goeie smaak getuig. Dit is ’n Griekse idioom wat vertaal kan word as jou woorde moet met sout besprinkel word. Dit gaan hier oor die manier waarop jy met mense en oor mense praat. Wysheid hier dui op woorde wat smaak gee aan die gesprek met en oor ander mense.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link