Hebreërs 12: 25-29; lees dit binne konteks van Hebreërs 10: 32 – 12: 24
Waarop slaan ons die maklikste ag: waarskuwings of dreigemente? Volgens die HAT is die verskil soos volg: Waarskuwing – iemand op die gevaar van iets wys, opmerksaam maak, ’n teken gee, vermaan, berispe. Dreigement – bedreiging, aanduiding om iemand kwaad te doen, hom verliese te laat ly as hy nie aan sekere voorwaardes voldoen nie.
Waarskuwings word in verskillende vorms aan ons gerig, en ons reageer daarop met verskillende reaksies. Dink maar net aan ouderdomsbeperkinge op speelgoed of films, aan waarskuwings op drank of sigaretpakkies, of selfs net ’n geel verkeerslig. Soms verloor waarskuwings hul krag omdat ons dit nie meer ernstig opneem nie of omdat ons so gewoond geraak het daaraan dat dit nie meer ’n invloed op ons het nie. Dreigemente volg nadat waarskuwings nie meer ’n invloed het nie. Wanneer iemand ons dreig, vul dit ons óf met vrees óf met aggressie.
In God se Woord hoor ons gedurig die oproep tot gehoorsaamheid, tot bekering, tot navolging. Met vermanende liefde dring God aan dat ons terugkeer na Hom. God is egter nie ’n dreigende God wat onwilliges forseer en dwing om Hom te volg nie. God is wel ’n regverdige God wat ernstig is oor die waarskuwings wat Hy aan die mensdom rig. In Hebreërs 12: 28-29 hoor ons dié woorde: Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur. In vers 25 lees ons: …moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Daarna volg die waarskuwing dat hulle wat sy Woord afwys, nie sal ontkom nie.
Vir baie eeue het God boodskappers gestuur om met mense te praat, maar dikwels het die mensdom nie daarop ag geslaan nie. Daarom het God met ons kom praat deur sy Seun, Jesus Christus (Heb 1: 1-4). In Hebreërs 2: 1 lees ons: Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. Kom ons luister met dankbaarheid na God se waarskuwings.
Ds Martin Meyer, Secunda
