Galasiërs 6: 1-2

…as iemand in die een of ander son­de val, moet julle … so iemand in ’n gees van sag­moedigheid reghelp… Dra me­kaar se laste…

Hoe maklik val ons nie in die lewe nie! Ons raak so maklik verstrengel in ons alledaagse omstandighede en ons moeilike situasies, dat ons soms wantrouig en mismoedig raak. Ons raak so vreeslik besig met ons eie lewens. Ons sien nie meer die mense om ons raak wat swaar trek en wat dalk selfs deur ’n geloofskrisis gaan nie… Ons raak ook afgestomp as gevolg van alles wat ons elke dag beleef. Dit bring baie keer ’n krisis in ons geloofslewe. Dit maak dat ek jou nodig het en jy vir my.

Ons moet mekaar ondersteun – in ons geloof en in ons alledaagse lewens. So moedig die Bybel ons ook aan: …as iemand in die een of ander son­de val, moet julle … so iemand in ’n gees van sag­moedigheid reghelp… Dra me­kaar se laste… Die vinnig bewegende lewe, met allerlei dwarswinde wat by allerlei oop vensters inwaai, bedreig ons geloof in God. Het moeilike omstandighede nie dalk al ook skade gedoen aan jou verhouding met God en jou medemens nie? Jesus het vir sy dissipels gesê: Wees op julle hoede dat julle gees nie … deur die sorge van die lewe afgestomp word nie… (Luk 21: 34).

Kom ons maak ons oë en harte en hande vir mekaar oop. Kom ons bied hulp aan waar hulp nodig is. Ons mag ook hulp vra. So word ék nie net gehelp nie, maar skep ek ook waarde in iemand anders se lewe, omdat hy of sy iets vir iemand gedoen het. Vra hulp, gee aan­dag en help mekaar. 

Genadige Vader, gee ons oop oë, liefdevolle harte en gewillige hande vir mekaar. Amen.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

af
af
Deel met behulp van
Copy link