Lukas 10: 38-42

Marta se verontwaardiging word ook deur ons gevoel. Vir haar is dit egter meer dringend as vir ons. Die waardes van eer en skaamte in hul samelewing maak etes ’n publieke aangeleentheid sodat die gemeenskap kan oordeel of daar eerbaar gehandel is. ’n Vrou wat nie help met voorbereiding nie, is nie eerbaar nie, en dit stel die hele huishouding in gevaar. Daar sal maatskaplike gevolge wees as Marta nie Maria se optrede as sleg uitwys nie.

Maria tree egter in opregte liefde eerder as uit sosiaal vereiste plig op. Sy bou ware menseverhoudinge. En dis die regte keuse, sê Jesus. Marta se diens is ook goed en aanvaarbaar, as dit uit opregte liefde geskied. Maar dit geskied nie uit liefde nie. Dit maak haar sielsongelukkig, want haar doel is die oorlewing van die huisgesin, selfs gestroop van vrede en vervulling. Is dit die moeite werd?

Om opreg te dien en lief te hê, kan vervolging deur ’n bose samelewing op die hals haal, dis die kruis wat ons gevra word om op te neem. Die kruis is nie die vernietiging van vryheid en keuse en menswaardigheid ter wille van gesamentlike depressie onder toksiese stelsels en verhoudinge nie. Die kruis is gesonde, opbouende, liefdevolle menseverhoudinge. Dis om norme en waardes daar te stel wat vreugde en vrede en vervulling van ons menswees bied. Beskouings wat sin aan ons lewe gee. En dis ’n kruis, want dis bevrydend. En lewens van vryheid in God se koninkryk is dikwels korter lewens in aardse koninkryke. Want aardse koninkryke is afhanklik van verslaafde harte en gedagtes. Mense wat besef hulle is vry om liefde te kies afgesien van verwagting, word deur boosheid as bedreiging ervaar en vervolg.

Maar daardie keuse is die regte keuse en sal nie weggeneem word van dié wat dit kies nie. Daardie keuse is lewe, en daardie lewe is ewig.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link