Numeri 11: 10-17, 24-30

Ons mense is maar brose wesens. Paulus praat in Korintiërs van kleipotte wat maar maklik breek. Maar wat maak ’n mens as jy breekpunt bereik? As jy totaal en al moedeloos is? Oorweldig voel? Jy weet jy moet iets doen, maar jy het net nie die krag nie. Nie die vermoë of die tyd nie. Die teenstand is net te veel. Jy kan nie meer nie… As jou werkgewer vir jou vra om nóg ’n taak op jou te neem; of jou kinders se skool nóg vrywilligers soek; of die kerk iemand soek om met nóg iets te help; of daar is konflik in verhoudinge, kinders met uitdagings…

Selfs Moses het gevoel hy kan nie meer nie, dat hy eenvoudig nie in staat is daartoe om alles te doen wat van hom gevra word nie. Wat doen Moses met hierdie gevoel van oorweldig wees? Hy praat met God. Moses kla, maar hy gaan kla by God. Hierdie klagte van Moses in vandag se teks, is van die mooiste klagtes wat jy in jou lewe sal hoor. Lees weer verse 11 tot 15. ’n Bietjie dramaties en oordrewe, maar terselfdertyd baie mooi.

God luister na Moses se parmantige, oordrewe klagte. En God help hom. God luister en God help. Nie altyd presies soos wat ons in gedagte gehad het nie. Moses wou nie meer die leier van die volk wees nie, maar dit was sy roeping. God luister na ons moedelose gekerm, en Hy gee vir ons wat ons nodig het om te doen wat ons moet.

God gee vir Moses mense om hom te help, om saam met hom die las te dra. So moet elkeen van ons ook in gebed na God gaan, met die vertroue dat God sal hoor en sal help, volgens sy wil.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link