Matteus 27: 45-56
Was jy daar die dag toe Jesus gekruisig is en gesterf het? Natuurlik was ons nie daar nie. Nie een van ons het meer as 2 000 jaar gelede geleef om dit te kon aanskou nie. Ons was nie teenwoordig die dag toe Jesus aan die kruishout opgehang is en Hy sy laaste asem uitgeblaas het nie. Jesus se dissipels was daar. Ons teks sê: Daar was ook baie vroue wat op ’n afstand gestaan en kyk het … Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus (vers 56). Ons het nie gedeel in die belewenis toe Jesus vir ons gesterf het nie.
Tog moet ons ook antwoord: Ja, ons was daar! Nie in vlees of gees nie, maar in ’n ander sin. Ons was daar met ons sonde. Die dag toe Jesus gesterf het vir sonde, was my sonde reeds daar by die kruis. Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom (Jes 53: 5). So ja, ek glo ons was daar! Ons sonde was op die skouers van Jesus geplaas. Hy het in my plek gely en gesterf, vir my ’n duur prys betaal met sy lewe. Ons is vergewe en vrygespreek.
Wanneer ons Goeie Vrydag as die kruisiging van Jesus herdenk, nooi Hy ons telkens om daar by die kruis te kom staan. Hy nooi ons om te sien hoe Hy sterf vir ons oortredinge. Hy nooi ons om ’n paar dinge saam te bring. Berou oor dit wat ons verkeerd doen wanneer ons sondige natuur oorneem. Hy nooi ons om die sondelas by Hom te los. Hy nooi ons en vra dankbaarheid vir vryspraak en verlossing. Jesus nooi ons en vra ons harte. Ja, Jesus vra totale oorgawe aan Hom. Nie net ’n gedeelte van jou lewe of sekere tye nie. Ons Verlosser het vir ons nuwe lewe kom gee. Vandag gee ons ons lewens opnuut aan Hom, sodat ons steeds hierdie voorreg van vrygespreekte kinders van ’n lewende Heer kan leef.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos
