Eksodus 27: 20-21

Die Israeliete het baie gevare en versoekings in die woestyn leer ken. Die lampe waarvan ons in ons teksgedeelte gelees het, het hulle herinner aan God se teenwoordigheid. Hulle het onthou dat die Here hulle versorg het en hulle gelei het, al het hulle self nie mooi geweet hoe die pad vorentoe lyk nie. Daarom moes die lampe dag en nag gebrand het. Dit moes gevoed word met besonder suiwer olyfolie. Hierdie olyfolie is spesiaal met die hand uitgedruk. Dit is olie wat baie helder sou brand en ook nie rook sou afgee nie.

Daar kom party dae wanneer ek ook voel soos een van die Israeliete in die woestyn. Ek is onseker. Daar is baie gevare en baie versoekings. Ek weet nie watter pad om te loop nie. Alles is donker om my. En daarom het die Here vir my lig gee, daardie vlam van die Heilige Gees is binne-in my hart. Maar as ek daardie Lamp nie gaan versorg en onderhou nie, as ek dit nie gaan voed met die regte olie nie, hoe kan dit vir my lig gee? My binnekant gaan mos donker bly. Dit gaan vir my voel of die Here weg is. Ek gaan verdwaal bly. Ons onthou vandag weer dat die tyd wat ek met die Here deurbring, nooit ’n vermorsing is nie. Daarom moet ek weer gaan kyk na my optrede elke dag, ek moet weer gaan luister na die woorde wat ek gebruik, ek moet weer gaan oplet na die gedagtes wat ek in my hart toelaat. Ek moet seker maak dat my Lamp versorg word en gevoed word met die regte olie, sodat my binnekant helder verlig kan word deur die Here se teenwoordigheid.

Ek gaan vandag só leef dat my lewe lig gee in die donker, ook vir die mense rondom my. Kom ons maak ’n punt daarvan om vandag ons Lamp te versorg en dit te voed met net die heel beste olie.

Ds Pieter Rossouw, Mafeking

Share via
Copy link
Powered by Social Snap