Job 6

God het meer as meegevoel met ons as mense, Hy het medelye. Dit beteken Hy is betrokke by ons lyding. Maar Job het geen medelye van sy vriende ervaar nie. Eers het hulle soos goeie vriende na hom uitgereik, maar nou is hulle besig om hom te veroordeel en sleg te sê.

Hulle dink hulle help hom, want as hy net na hulle luister en sy goddeloosheid erken en bely, sal sy lyding op ’n einde wees. Sal God hom weer met voorspoed seën. Job dink ook dit is hoe God werk, maar hy weet hy is nie goddeloos nie. Dus beteken dit God is die skuldige, nie hy nie. God is onregverdig, want hy straf Job terwyl hy nie straf verdien nie. God tref hom met ellende soos ’n boogskutter wat pyle van ellende op hom afskiet, en dit terwyl hy onskuldig is!

Job verwag sy vriende moet hom vertrou en besef dat hy onskuldig ly. Hy verwag medelye in plaas van veroordeling. Hulle kan immers nie vir hom sê waar hy dan sou gesondig het nie. Daarom sy opmerking: Wie medelye met ’n vriend of medemens as ’n las of lastigheid beskou, verwerp sy eerbied vir God ook. Hier toon Job wel insig in God se besig wees met die mens op aarde, insig in dit wat eeue later deur Jesus Christus in die besonder geopenbaar is – Jesus wie se medelye so groot was dat mense Hom aan ’n kruis kon vasspyker ter wille van ’n beter wêreld. Sodat ons medelye met mekaar ’n beter wêreld tot gevolg kan hê. Medelye met mekaar veral in tye van nood, lyding en worsteling.

So laat Job ons na onsself kyk en vra: Is ons ook reg om eerder te veroordeel as om medelye met mekaar te hê? Of het ons waarlik medelye met ons medemens in nood, gegrond in ons liefde en omgee vir mekaar, sodat God ook deur ons van die wêreld ’n beter plek kan maak?

Ds Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link