Esegiël 16: 4-8

Goeiemôre, goeiemiddag, goeienaand.

Baie dankie vir ’n wonderlike aand.

Veels geluk en bly te kenne vat die hand.

Simpatie, want ek voel saam met jou vanaand.

Dis alles woorde, net leë woorde – op vals akkoorde

en almal sing dit, almal sing, ja almal sing dit saam!

Die tragiese waarheid waarvan Koos du Plessis hier sing, is dat ons meelewing met mekaar dikwels net tot leë woorde beperk is. Met begrafnisse ploeg ons partykeer deur mense se hartseer as ons goedkoop simpatie van ons lippe laat afrol. Sterkte! God sal by jou wees! Wanneer jy jou slimfoon optel, kan jy sommer oor ’n afstand met mekaar “meeleef”. Met die druk van ’n paar knoppies kan jy simpatiseer, emosies verbaliseer of simboliseer. Net lippetaal…

God se medelye met sy volk loop op reddingsdade uit. Dink maar aan die uittog uit Egipte en die verlossing uit ballingskap. In Esegiël 16 vertel God hoe Israel sy volk geword het. Met Israel se geboorte wou niemand hom hê nie. Die baba is ongewas en onversorg in die veld gelos. Maar God het verbygekom, die kleintjie opgetel en hom met liefde grootgemaak.

Nêrens het sy medelye meer sigbaar geword nie as toe Hy self in die gestalte van ’n mens ons straf kom dra het. Op aarde het Hy medelye kom demonstreer. Hy het hulle besoek wat deur die gelowiges van sy tyd verwerp is: die melaatses, prostitute, tollenaars, armes en eensames. Hy het honger gestil, siektes genees en saam met bedroefdes gehuil. Hy het aan sy dissipels met ’n gelykenis verduidelik dat om Hom te volg, nie beteken dat ek wonder en filosofeer oor wie my naaste is met wie ek medelye behoort te hê nie. Ek moet namens Hom bloot lief wees vir almal wat my pad kruis. My vraag elke dag behoort te wees: Wie is daar wat my medelye kort?

Ons Vader in die hemel, help my om namens U medelye te betoon. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link