Psalm 30

Psalm 30 beskryf die eb en vloed van die lewe, en hoe God dikwels verrassend en onverdiend ons lot, ons toekoms, verander, sodat ons ons gisters kan laat waar dit hoort – in die verlede. Van hierdie onverwagse wending lees ons baie in die Bybel, byvoorbeeld in Psalm 30: Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.

Niks hou vir altyd aan nie. Gelukkig nie. Daardie goor gevoel wat jy dalk nou beleef, ook nie. En jy gaan ongelukkig waarskynlik ook nie baie lank op die kruin van die golf vertoef nie. Goeie tye hou nie vir altyd aan nie, maar slegte tye hou ook nie vir altyd aan nie. Daarom behoort ons goeie moed te hou wanneer dinge nie uitwerk soos ons gehoop het nie.

Die pendulum in die Psalm swaai heen en weer: Smekend om hulp, maar nou gesond; op pad na my dood, maar tog lewend gehou; van toorn tot goedheid; van trane tot lag; van rou tot vreugde; van rouklere tot feesklere; van stilte tot ’n lofsang. Dawid het tallose nagte se trane beleef, maar hy het sy vreugdevolle oggende liries en digterlik beskryf – tye toe God hom gedra het, beskerm het, vergewe het, gered het, weer mens gemaak het, weer laat lag het, weer vreugde laat beleef het.

Soms voel dit asof niks vir ons uitwerk nie, ongeag hoe hard ons probeer. Maar die wiel draai, en op ’n goeie dag word jy verras met skielike seën, of met goeie nuus, of met daardie gevoel van ’n salige kalmte na die storm – en jy besef opnuut: Alle slegte tye gaan uiteindelik verby! In jou donkerste uur is God jou lig. In jou nood is Hy die uitkoms. In die storm is Hy jou kalmte. Op jou swakste is Hy jou sterkte. Op jou hartseerste is Hy jou trooster. Op moedverloor se vlakte is Hy jou hoop. Op jou weerloosste is Hy jou beskerming. Op jou laagste buig Hy af na jou en tel jou weer op. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap