Eksodus 1: 8 – 2: 10

Die farao in Egipte was bang vir die Hebreërs wat meer geword het. Hy beveel die Hebreeuse vroedvroue om die seuntjies dood te maak. Hy was van oordeel dat vroue onbeduidend was. Sonder mans om aan hulle identiteit te gee, was hulle nie regtig deel van Israel nie, en sou daarom na sy mening naatloos inskakel by die Egiptiese samelewing. Ironies genoeg, begin juis die vroue teen hom konkel. Hy wat as koning totale gehoorsaamheid van die vroue verwag het, word deur die twee vroedvroue ’n rat voor die oë gedraai.

Die Israeliete bly groei tot ’n sterk volk, en die farao besluit vervolgens dat alle seuntjies in die rivier gegooi moet word. So lees ons van ’n vrou wat ’n seuntjie gehad het, hom weggesteek het, en as ’n laaste poging hom in ’n mandjie op die Nylrivier gesit het. Die dogter van die farao vind die mandjie. Sy kry die seuntjie jammer, en wanneer Moses se sussie ingryp en haar vra of sy iemand moet kry om hom te voed, stem sy in. Sy stem in om sy lewe te red. So word Moses se lewe gespaar sodat die Here hom kon gebruik om sy volk te red.

Hierdie vroue het aktief binne hul omstandighede gelewe, aktief die wil van God binne hul omstandighede gesoek! Ons is ook baie keer midde-in omstandighede wat nie vir ons lekker is nie. Dit is tye wanneer ons voel ons het nie beheer nie, dinge gaan nie soos ons dit wou hê, of soos ons dit beplan nie.

Saam met God kan ons ons perspektief verander. Ons uitkyk op dinge, ons houding daarteenoor, is bepalend vir ons lewens. Indien ons negatief en sonder hoop na ons omstandighede kyk, tree ons dienooreenkomstig op. Wanneer ons ons omstandighede in geloof, hoopvol en positief benader, vasberade om te leef volgens die wil van die Here, kan ons ’n verskil maak en anders lewe, waar ons ons ook al bevind!

Ds Marike van der Merwe, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap