Lukas 2: 34-40

Simeon gaan verder met die bekendstelling van die Kindjie, Jesus. Simeon sê dat hierdie Kindjie bestem is tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel. Hiermee sê Simeon dat niks ooit weer dieselfde sou wees nie, want hierdie Kindjie gaan skeiding bring. Vir sommige gaan sy teenwoordigheid meebring dat hulle tot ’n val, tot ondergang, gebring sal word. Dit is hulle wat nie verstaan nie en nie glo nie dat Jesus die gesalfde Verlosser is wat gekom het om verlossing te bewerk. Vir ander gaan sy teenwoordigheid opstanding beteken, opstanding tot ’n nuwe lewe. Dit is hulle wat die belofte onthou en wat nou verstaan en glo dat hierdie Kindjie daardie Verlosser is. Hier gaan dus skeiding kom, tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie.

Simeon noem verder dat Jesus ook ’n teken sal wees, maar ’n teken wat weerspreek sal word. Teken beteken hier iets wat raakgesien word. Hier kan ons byvoorbeeld dink aan die padteken van ’n smal bruggie. So ’n padteken is sigbaar vir almal, maar dit is nie almal wat hulle daaraan steur nie. As jy jou nie steur aan die teken nie, is dit byna onvermydelik dat jy ’n ongeluk sal maak en kan ondergaan, kan sterwe. Die gesindheid van mense sal aan die lig kom deur die keuses wat gemaak word: sterwe of opstanding. Simeon kondig ook aan dat Maria persoonlik, as moeder, pyn sal ervaar wanneer haar Seun verag, veroordeel en gekruisig word.

Anna, die profetes, het bygestaan. Sy het God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing… uitgesien het. Hierdie getuienis van Anna sluit aan by die voorskrif volgens Deuteronomium 19: 15 dat twee of drie getuies nodig is om die geloofwaardigheid van ’n saak te bevestig. Hierdie Kindjie is daarom werklik bestem tot ’n val en ’n opstanding.

Na hierdie bekendstelling weet óns ook nou wie hierdie Kindjie is. Dit is steeds belangrik watter keuse ons vandag maak. Kies ons die val of die opstanding?

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

af
af
Deel met behulp van
Copy link