Markus 1: 16-20

Die eerste agt hoofstukke van die Markus-evangelie speel af in Galilea, in die noorde van Israel. Suid van Galilea is die provinsie Samaria, en suid van Samaria is Judea, waar Jerusalem geleë is, en ook Betlehem, die stad van Dawid. Volgens Matteus en Lukas is Jesus in Betlehem gebore. Markus praat nie veel oor Betlehem nie, maar hy praat wel baie van Galilea, en die dorpie Nasaret in Galilea waar Jesus grootgeword het. En dan die dorpie Kapernaum, aan die noordelike oewer van die See van Galilea, waar Jesus dikwels gewoon en gewerk het. ’n Dorpie waarvan vandag min oor is! En Markus verweef die verhaal van baie van Jesus se werk met die See van Galilea.

In die eerste hoofstuk vind ons Jesus waar Hy hier langs die See van Galilea loop, en vir die broers Simon en Andreas sien waar hulle, ervare vissermanne, besig is om hul vissersnette in die see uit te gooi. En Hy roep hulle om iets anders te kom doen: Hulle moet eerder vir Hom volg en dan vissers van mense word. Nie herders nie, vissers van mense, want dit was die werk wat hulle geken het.

’n Entjie verder sien Hy nog twee broers, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, en Hy roep hulle ook om Hom te volg en vissers van mense te word, en die twee vissermanne los hul boot en hul pa net daar agter om Jesus te volg.

En terwyl ons in die gedagte saam met Jesus en Simon, Andreas, Jakobus en Johannes hier by die binnelandse meer rondloop en met ons voete in die sand trap, en in werklikheid elke dag met ’n ander beroep of werk besig is, kom ons hoor hoe Hy ons ook roep. Hy roep ons om Hom te volg, om Hom dop te hou as ons Heer, om ons lewe aan Hom te wy, terwyl ons ons dag vir dag met ander aardse take ook besighou.

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap