Johannes 2: 1-12 (AFR2020)

Die bruilof in Kana was in die knyp – die wyn het opgeraak. Meer wyn was al wat die onthaal kon red. Ons lees in Johannes 2: 5 die woorde van Jesus se ma aan die kelners: Doen wat Hy ook al vir julle sê. En al wat Jesus vir die kelners sê, is: Maak die kanne vol water. Sonder teëstribbeling het hulle die kanne tot bo toe volgemaak. En hierdie woorde is seker die swaks bewaarde geheim vir ’n sinvolle lewe van alle tye: Doen wat Hy ook al vir julle sê.

Baie van ons probleme, ons ontevredenheid oor die lewe en ons vertraagde geestelike groei, kan toegeskryf word aan ons onwilligheid om ag te slaan op dít wat Hy vir ons sê. In plaas daarvan kom ons heeltyd in opstand daarteen. Maria se opdrag aan die kelners is baie duidelik: Doen wat Hy ook al vir julle sê.

Dalk soek jy ook naarstiglik na ’n oplossing vir ’n reuseprobleem waarmee jy te kampe het? Dalk begeer jy ’n gesonder verhouding met die Here? Dalk smag jy na die vermoë om uit te styg bo moeilike omstandighede of na nuwe geesdrif vir die lewe? Dalk wag jy vir ’n uitkoms uit ’n knyptangsituasie? Dalk wil jy net ’n bydrae maak om van die wêreld ’n beter plek te maak. Wel, hier is die sleutel: Doen wat Hy ook al vir julle sê.

As Hy sê: Volg My! (Joh 1: 43) – laat ons dit doen.

As Hy sê: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het (Joh 15: 12) – laat ons dit doen.

As Hy sê: Bid (Matt 6: 9) – laat ons dit doen.

As Hy sê: Verkondig die evangelie aan die hele mensdom (Mark 16: 15) laat ons dit doen.

As Hy sê: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand … en jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Matt 22: 37-39) – laat ons dit doen.

Want wat op die spel is, is veel meer as ’n bietjie ekstra wyn op ’n huweliksonthaal…

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap