1 Petrus 2: 11-17

Ons as Christene worstel soms met die vraag oor hoe ons moet optree in ’n wêreld wat toenemend wetteloos en dikwels vyandig word. Die etiek en die Christelike waardes waarmee ons grootgeword het, geld lankal nie meer in die samelewing nie. Die algemeenste reaksies wat ons op die omstandighede in ons land kry, is om te konformeer of te kritiseer.

Dit is alledaags om te sien hoe iemand ’n rooi verkeerslig of ’n stopteken verontagsaam, net om deur verskeie mense gevolg te word wat dieselfde doen. Ons was almal sekerlik al blootgestel aan swak dienslewering en mense se reaksie daarop. Daar is net een of twee mense nodig om gewelddadig te raak, dan ruk dit sommer gou handuit. So konformeer mense in hul optrede in reaksie op probleme van ons tyd. Ons maak ook nou so, want almal maak so.

Die ander manier van hantering is om te kritiseer. Ons is daagliks deel van gesprekke waar alles en almal wat deel is van ons lewe, gekritiseer word. Skuldiges word uitgewys en veroordeel sonder om enige positiewe bydrae te maak om die probleem op te los. Hierdie ingesteldheid eindig dikwels met die uitspraak: Ons weet nie waar alles gaan eindig nie.

Dit is nodig dat ons as Christene duidelik vir onsself sal uitmaak watter rol ons het om te speel in hierdie land. Dit is duidelik dat om te konformeer of te kritiseer geen bydrae lewer nie en geen verandering bring nie. Dit is uiters belangrik dat ons die woorde van die gedeelte wat ons gelees het ter harte sal neem. Die gedrag wat hier van gelowiges gevra word, is om ’n verskil te maak en verandering te bewerk. Die regte pad is om altyd te doen wat goed en reg is. Die eis wat aan ons gestel word, is om elke geleentheid te gebruik om God te dien, mense lief te hê en mekaar te respekteer.

Gebed

Here, lei ons in ons lewe deur u Gees om altyd met waardigheid op te tree in u diens. Amen.

Ds Adriaan Roets, Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link