Efesiërs 3: 14-21

Edmund Burke, ’n Ierse politikus wat in die 18de eeu geleef het, het in sy leeftyd etlike wyshede kwytgeraak. Een van sy kosbare uitlatings het oor die menslike intellek gehandel. Burke het gesê: Hoe dieper ons delf in die ongelooflike werking van die menslike verstand, hoe meer bewyse sal ons vind van die onmeetbare vermoë van die Een wat ons verstand geskep het. Hiermee het hy dit duidelik gestel dat al word ons hoe slim, ons sal nooit die omvang van God se wese, sy liefde en sy genade verstaan nie.

Die skrywer van die brief aan die Efesiërs het iets van ons onvermoë begryp. Hy bid dat daar grepe van hierdie liefde van Jesus Christus in ons harte sal tuiskom. Hy pleit dat ons iets sal verstaan van die dimensies van hierdie liefde. Hy sluit die gebed af met onder andere die volgende woorde: …om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink… Soos Burke, begryp die skrywer van hierdie brief die mens se tydelike en onvolledige verstaan van God wat by ons lewens betrokke is. Desnieteenstaande kan ons dit tog waag om iets oor God te sê en kan ons deurgaans sy teenwoordigheid ervaar.

Ons sal dit egter slegs met die kennis en ervaring wat tot ons beskikking is, kan beleef en beskryf. Ons eie verstaansraamwerk bepaal die grense van ons begrip. Dalk daarom dat Bybelse skrywers deur die eeue, en ook ons vandag, die grootheid van God, sy betrokkenheid by ons en die omvang van sy liefde probeer beskryf in eenvoudige menslike terme. Dit is dus nie vreemd nie dat Bybelse skrywers aan God hande, arms, oë, ore en ander menslike kenmerke toedig. In die dagstukkies wat volg, gaan ons hierdie menslike omskrywings van God in fyner besonderhede met mekaar deel.

Gebed

Here, mag ons deur u genade opnuut verbyster staan voor u grootheid, en mag ons opnuut die impak van u liefde vir en u betrokkenheid by ons lewe waardeer.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link