Esra 7: 1-10 en 27-28 (AFR2020)
Esra is deur God geroep om op te tree in ’n uitdagende tyd van Israel se geskiedenis. In daardie stadium was die Israeliete al jare lank in ballingskap in Babilonië, maar toe die Persiese Ryk Babilonië oorwin, het ’n nuwe koning aan bewind gekom – koning Kores. Hy het toegelaat dat God se volk teruggaan na hul eie land. Daar kon hulle weer die stad en tempel wat die Babiloniërs afgebreek het, herbou, en so ook hul geloof en identiteit. Esra word deur die werking van God na Jerusalem gestuur om ondersoek in te stel na die geloof en geestelike toestand van die ballinge wat teruggekeer het.
Soos wat die tempel van voor af herbou moes word, moes die volk se geloof ook in baie opsigte van voor af herbou word. Baie mense het nie meer die woord en wette van God geken nie. Baie het selfs apaties en onverskillig geword teenoor hul geloof. Die taak wat voor Esra gelê het, was in wese ’n hervorming van die geloof van Israel. Hierdie groot taak bring Esra diep onder die indruk van sy afhanklikheid van God. Hy besef dat hy dit net sal kan uitvoer onder die seën van die Here.
Esra se lewensverhaal word gekenmerk deur die woorde: omdat die Here, sy God, se hand oor hom was (vers 6). Dit is uiteindelik in die wete dat God sy hand deurentyd oor hulle uitgestrek gehou het, dat beide Esra en die volk moed en vastigheid kon vind in die nadraai van die ballingskapgebeure. So word die nuut herboude tempel, die huis van God en die woord van God – hul geloof – die anker wat die Israeliete gehelp het om hul lewens weer te op te bou.
Daarom is die boek van Esra ook so relevant vir ons en vir die kerk van vandag. Want net deur vertroue en afhanklikheid vind ons ’n vaste koers waarop ons vorentoe kan gaan. Ja, ook ons kan moed skep omdat die hand van die Here ons God oor ons was, steeds oor ons is en altyd oor ons sal wees.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom
