2 Korintiërs 3: 17-18
Die woord vryheid het deel geword van ons alledaagse woordeskat. Ons wil glo dat ons vry is, maar waarom lê die lyne van bekommernis so duidelik op ons gesigte geëts, hoekom is daar soveel skouers vooroor gebuig, en waar is die glinster in die oog heen?
Dit is tog met groot sekerheid dat ons kan sê dat elke gelowige ’n bevryde mens is. Daarom ken gelowiges – ons – die heerlikheid van God, want ons ervaar dit in ons eie lewe. Die sonde wat skeiding tussen ons en God gebring het, is versoen deur Jesus se bloed aan die kruis. Ons beleef God se genade en liefde daagliks. Wanneer ons die heerlikheid van God raaksien, werk die Heilige Gees in ons en vernuwe ons sodat ons daardie heerlikheid ook kan uitstraal. Die Heilige Gees vernuwe ons sodat al meer van Christus in ons sigbaar word.
Gelowiges het inderdaad rede om ons vryheid te vier. Ons is nie meer slawe van die sonde nie, maar waarom laat ons toe dat ons slawe van hierdie wêreld word? Waarom maak ons skatte hier bymekaar waar mot en roes dit verniel? Waarom laat ons toe dat hierdie wêreld ons lewensvreugde steel met haar soeke na geluk, sukses en voorspoed, terwyl ons dit alles reeds in Jesus Christus het?
Sien ander raak dat ons inderdaad vry is wanneer hulle na ons kyk, smag hulle ook om soos ons vry te wees en toe te laat dat die Heilige Gees hulle vernuwe?
Gebed
Here, ons dra almal ’n stuk bekommernis met ons saam; ons het elkeen ’n soeke na meer. In hierdie soeke, Here, raak ons baie keer verlore in die wêreld se dinge, en gaan u heerlikheid en teenwoordigheid ongesiens by ons verby. Vergewe ons, Here, en help ons om soos bevrydes te leef. Mense sonder die juk van sonde, die las van skuldgevoel, maar u bevryde kinders. Vernuwe en lei ons deur u Gees om waarlik u boodskappers te wees. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes
