2 Samuel 7: 1-17

Dawid het begin wonder – hy woon nou in hierdie weelderige huis terwyl die tabernakel van die Here maar in ’n tent staan. Dít klink mos nie reg nie. Daarom wil hy vir die Here ’n tempel bou – ’n huis vir God. En hy vra vir die profeet Natan of dit reg is vir die Here.

Natuurlik antwoord Natan dadelik dat dit reg is. Hy het aangeneem dit is wat die Here sal wil hê. In daardie tyd het gode tempels gehad om in te woon, en daarom dink ’n mens nie eens twee keer daaroor of die God van Israel ook ’n tempel moet hê nie. Maar daardie selfde nag praat die Here met Natan en sê vir hom dat dit nie is wat Hy wil hê nie. God wou nie hê Dawid moet vir Hom ’n huis bou nie, want die God van Israel is nie soos die ander volke se gode nie. God word nie vasgevang in geboue of plekke nie, want Hy is die Lewende God.

Die Here het in daardie stadium nog nooit in ’n tempel gewoon nie, Hy het eerder in die tabernakel en in ’n tent saam met Israel rondgetrek. Dit is ook maar hoogstens beeldspraak, omdat ons weet die Here word selfs nie in ’n tabernakel of tent vasgevang nie. Dit was maar simbole van God se teenwoordigheid. God maak Hom eerder tuis in die wel en wee van sy mense, daarom het God saam met Israel getrek en is Hy oral by sy volk, by gelowiges teenwoordig. Alhoewel Israel die tabernakel en tent van die Here deur die woestyn gedra het, is die Here die Een wat hulle in swaarkry en nood deurgedra het. Dawid wil vir die Here ’n rusplek bou, maar die Here is die Een wat vir Dawid en die volk rus gee.

Die huis van die Here is in werklikheid in elkeen van ons se harte. Deur die inwoning van God se Gees, is ons die tempel van God. Ons kan leef met die versekering dat die Here by ons is. God staan nie stil nie, God beweeg – God is by sy kinders.

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap