Efesiërs 4: 1-7

Die Drie-enige God bly vir ons ’n verborge geheimenis. Tog moet ons iets hieroor probeer sê, al stamel ons. Ons moet die uitdaging aanvaar deur te getuig: So sê die Bybel! En wat sê die Bybel? Die Vader is sonder oorsprong, Hy bestaan van ewigheid af. Die Seun is deur die Vader uit die Goddelike Wese verwek, en die Heilige Gees kan as asemhaling of lewe verstaan word. Die drie Persone is op die innigste moontlike wyse aan mekaar verbind – Hulle trek nooit in verskillende rigtings nie. Niks wat Hulle sê of doen, weerspreek mekaar nie. Hulle het net één wil, en dit is om alle mense te red.

Hoe God in Homself is, dit weet ons nie. Wat ons wel weet, is hoe ons Hom ervaar. Vir ons is Hy ’n Vader, ’n Verlosser en ’n Trooster. Met hul woorde en dade bring Hulle liefde, vergifnis en lewe na ons toe.

Die leer oor die Drie-eenheid kom die beste tot sy reg in die liturgie tydens die erediens. Ons begin gewoonlik ons erediens in die Naam van die Drie-enige God, en ons word die wêreld ingestuur met die seëngroet in sy Naam. Ons word dus in sy Naam tydens die erediens verwelkom, en vertrek weer onder die beskerming van sy Naam.

Die geloof in Christus wat deur die Heilige Gees in ons gewek word, is géén droombeeld nie. Die verlossing (vergifnis) wat deur Christus vir ons gebring is, is géén illusie nie. Wie die leer oor die Drie-eenheid loslaat, bevind hom altyd op die pad van onsekerheid.

Natuurlik moet die intieme verhouding tussen Vader, Seun en Gees iets sê van óns wat hierdie God se kinders geword het. Met ons woorde en dade moet ons die heerlike geur van die evangelie versprei: God het deur Christus uit sy verborgenheid getree om van sondaars soos ons, sy kinders te maak.

Gesang 449: 1-3

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link