Lees die Bybelgedeeltes waarna verwys word

Die Heilige Gees is die krag van nuwe lewe in Christus. Terwyl die Gees aan die werk is sedert die skepping van die wêreld (Gen 1: 2) en in die gee van lewensasem vir alle skepsels (Ps 104: 24-30), is die Gees ook die bron van nuwe lewe. Johannes beskryf dit as die krag van ons tweede geboorte. Net soos ons by ons eerste geboorte op natuurlike wyse gebore is, moet ons ook nuut gebore word deur die krag van die Gees (Joh 3: 1-8). Met die geloofsbelydenis van Nicea bely die kerk in lyn met die Evangelie van Johannes en die apostel Paulus (1 Kor 15: 45) ons geloof in die Gees as die Lewendmaker. Dit beteken Hy skep nuwe lewe in Christus. Die Gees is die krag van transformasie van nie-wees na wees, van die oue na die nuwe, van verslawing aan die magte van sonde en dood tot nuwe lewe in gemeenskap met God en met ander.

Die Nuwe Testament bring die koms van die Gees in verband met nuwe vryheid vir die diens aan God. Net soos Christus ’n nuwe vryheid vir God en ander gebring het (Gal 5: 1), sit die Gees hierdie bevrydingswerk van Christus in ons en in die wêreld voort (2 Kor 3: 17-18). Die vryheid van Christus wat die Gees meebring, is egter nie ’n selfgesentreerde, wettelose soort vryheid of ’n vryheid wat ’n mens toelaat om te doen wat jy wil nie. Die Gees maak ons vry om dieselfde gesindheid te hê wat daar in Christus was (Fil 2: 5), en om ooreenkomstig die wet van Christus te lewe (Gal 6: 2). Dit is die vryheid om God en ander lief te hê en om te lewe in regverdige en vredevolle verhoudings. Die Gees bevry gelowiges vir ’n patroon van lewe wat God se selfopofferende liefde in Jesus Christus weerspieël. Pinkster leer ons dat onreg ons verhouding met God en ander vernietig en roep ons op om enige vorm van onreg te bestry (Jes 61: 1-2; Luk 4: 18-19).

Dr Christo van der Merwe, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap