Psalm 137: 1-6; Jesaja 44: 1-5

Wat is jou enigste troos in lewe en in dood? Watter merkwaardige vraag! ’n Mens sou dink dat ons almal sou wou weet wat ons troos in die lewe is, want dis tog hier waar ons troos so broodnodig het. Maar troos in dood, troos in eindes? Dis ons eindigheid, die feit dat tyd verbygaan, wat ons soms reddeloos laat treur.

Eindes is hartseer. Jou kind skype met jou uit Engeland en vertel van sy wonderlike werk. Wanneer die verbinding eindig, is jy hartseer. Ander eindes is meer permanent van aard. Ons lewens is vervleg met die lewens van mense. Die seerste einde is wanneer ’n verhouding wat baie beteken het, tot ’n einde kom. Sommige van ons kom nooit sover om die einde van ’n verhouding te aanvaar en afskeid te neem nie.

Israel moes ook afskeid neem. Die soldate van Babilonië het deur hul land getrek en alles vernietig. Die tempel is afgebreek, hul huise is in puin gelê. Jerusalem, hul geliefde stad, is tot op die grond afgebreek. Baie mense is doodgemaak, terwyl die oorlewendes as krygsgevangenes na Babilonië gebring is. Die ergste was dat hul onthou nie uitgevee was nie. Hulle onthou nog Israel se glorieryke dae. Hulle treur oor ’n lewe wat verby is. Dit is wat ons ook doen. Wanneer dinge vir ons donker lyk, dink ons terug aan die goeie ou dae. Ons herinneringe hou ons aan die lewe.

Dit is waar dat ons krag kry vir vandag wanneer ons terugkyk. God vra egter vir ons om vorentoe te kyk en saam met Hom van ’n nuwe begin te droom. Voetjie vir voetjie saam met Hom die grens oor te steek en dit wat bekend is en ons veilig laat voel, agter te laat. Kyk na jou handpalm en sien dat daar geskryf staan: Die Here s’n. Ek behoort aan die Here. Daarom kan ons vorentoe kyk in vertroue. Ons behoort immers aan die God van die heelal, die Here van beginne en eindes.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link