Johannes 6: 41-59
In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet… So praat die Here met Adam in Genesis 3: 19 (AFR33/53). Brood is vir talle mense stapelvoedsel. Om ’n stukkie brood te kan eet, beteken vir mense oorlewing. Jesus leer ons bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood (Matt 6: 11). Daardeur verwys Hy met “brood” na ons noodsaaklike behoeftes. Die manna in die woestyn was vir Israel hierdie “brood” uit die hemel wat God daagliks voorsien het (Eks 16).
In Johannes 6 lees ons dat Jesus sê Hy is die brood wat lewe gee. As jy van hierdie brood eet, sal jy nooit weer honger word nie. Aardse brood voed jou aardse liggaam, maar Hy voed ons geestelike lewe. Daarom het Hy ook voor sy kruisiging met brood en wyn die Nagmaal ingestel as teken dat Hy sy liggaam vir ons laat breek het. Om saam brood te breek, getuig van gemeenskaplikheid. Vriende en familie kuier rondom ’n tafel terwyl hulle eet en brood breek. So bind Jesus ons saam. Die gedagte van brood wat uit ’n klomp koringare saamgemaal word, beklemtoon die verskeidenheid wat om ’n tafel saam brood breek.
Dorothee Sölle het ’n bundel opstelle geskryf met in Engels die titel Death by Bread Alone. Sy gebruik die uitdrukking “brood” om te verwys na ons gejaag na aardse dinge wat ons as noodsaaklik begin beskou het, maar uiteindelik net ’n gejaag na ydele behoeftes is. Hierdie gejaag ontneem jou daarvan om die werklike vreugde van die lewe te smaak.
Vra jouself, wat is werklik “broodnodig”? Jaag ons nie soms na ydele dinge, terwyl ons die manna miskyk wat God daagliks op ons lewensreis aan ons skenk nie? Niemand kan sonder brood lewe nie. Daarom moet die kerk bly uitreik na mense in nood, maar nie net fisiese honger nie. Of soos Petrus vir Jesus gesê het: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee (Joh 6: 68, AFR1983). God voed ons vandag nog met fisiese en geestelike brood.
Ds Louw van der Linde, Evander