Matteus 6: 25-34

Die woorde van Matteus 6: 25-34 klink wonderlik, maar is dit werkbaar? Is dit nie gewoon onrealisties nie? Met respek: Weet die Here hoe lyk my kantoor op ’n Maandagoggend? Weet Hy van die spanning by die skool? Die situasie in ons huis? Is dit nie ’n onrealistiese ontvlugting van die harde werklikheid om na voëls en die veldlelies te kyk terwyl ’n mens juis deur die harde feite van elke dag gedryf behoort te word nie? 

Dis egter nie wat Jesus met hierdie woorde bedoel nie. Wat Jesus hier doen, is om ons uit te nooi na ’n nuwe lewenstyl, tot ’n ander manier van dink en doen. ’n Mens kan sê Hy nooi ons uit om ’n nuwe passie te hê, ’n nuwe prioriteit, naamlik die koninkryk van God en die wil van God – soos Hy dit in die sleutelvers van hierdie gedeelte saamvat (vers 33). 

Wat is dié koninkryk van God? Dit beteken tog: God is Koning, Hy regeer. En as julle nog hieraan twyfel, sê Jesus, hier staan Ek, Ek wat die koninkryk van God in lewende lywe en in aksie is. Hier staan Ek in die middel van al jul sorge en bekommernisse, en ja, Ek weet alles daarvan. Gaan staan dus maar vandag en môre midde-in jou sorge, maar onthou: Ek is daar by jou, Ek staan langs jou, Ek neem jou sorge op My. Gee dit vir My, want Ek het dit reeds op My geneem. Dis hoe die evangelie in ’n neutedop klink. Die Here sê hiermee vir ons: Onthou altyd, jy is nie alleen nie. Die Koning van die koninkryk is by jou, binne jou, Hy regeer oor jou; ook oor jou lewe, oor wat jy moet eet en aantrek. Hy het elke haar op jou kop getel, Hy sorg vir jou. Soveel meer as vir die voëls en die veldlelies. Ja, elke dag het genoeg moeilikheid van sy eie, maar elke dag het ook genoeg genade, is ook vol van die koninkryk van God. Moet dit nooit vergeet nie.

Dr Christo van der Merwe, Emeritus

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link