Psalm 8
Welgedaan! Ek is trots op jou. Of: Dankie vir wat jy gedoen het. Of: Jy is nie goed genoeg nie. Of: Jy sê jy leef soos ’n Christen, maar ek ervaar dit nie.
Woorde bou op en dade bevestig, maar breek selfs vinniger af. Hoe kom jy deur jou emosionele en fisiese wipplankdag? Waarheen gaan jy met die selfverwyt, bekommernis of twyfelgedagtes? Jy gaan na die plek waar jy rus en vrede vind.
Psalm 8 neem jou na waar dit stil, rustig en veilig is. Hierdie Psalm wys nie net die wonder van God se skepping nie, maar fokus ook op die toppunt van die skepping. Dit waarop God die trotsste is en wat vir Hom die kosbaarste is – die mens. Jy! Glo jy dit? Voel dit altyd vir jou so?
Hoeveel keer in die Bybel lees jy dat die begin en die einde ooreenstem? Selfs die Name van God versterk hierdie gedagte: God is die Alfa en Omega, die begin en einde. Toe Jesus sy werk op aarde aan die kruis voltooi het, het Hy gesê dit is volbring. Alles begin en eindig by God! Hierdie lofpsalm ook: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
Wanneer jy jou dag begin en eindig met hierdie gedagte (al is dit ’n vlietende gedagte), weet jy alles wat in die middel gebeur, word deur God omring. Die slegte woorde, jou bekommerde gedagtes, twyfeloomblikke en woedeuitbarstings. Jou trane wat vrylik oor jou wange vloei – alles is in God se arms. Wanneer dit voel jou kop sak, onthou dat hierdie middelste gedeelte deur God se teenwoordigheid, sy liefde, sy guns en sy seën omarm word. Al vergeet jy soms hoe dinge begin het of hoekom jy doen wat jy doen, al weet jy nie wat die toekoms inhou of waarheen jy gaan nie, weet dat God jou as net minder as ’n hemelse wese geskape het en jou Lig is. Maak oop jou oë, kyk op en sien jou Lig.
Psalm 27
Ds Joleen Marx, Beroepafwagtend
