Lukas 24: 13-35

Die wyses van ouds het gereeld van die metafoor van ’n pad gebruik gemaak om oor die lewe te praat. Het ons nie al almal kennis gemaak met die prente wat in studeerkamers gehang het met die “smal weg” en die “breë weg” baie mooi daarop geskilder nie? Ons is nou maar almal eenmaal burgers van die pad van die lewe. En natuurlik gebeur daar op die lewenspad allerhande dinge met ons. Daar is plekke op hierdie pad waar ons ’n gewaarwording kry dat ons nie alleen loop nie, dat ons op ’n manier (wat ons verstande nie altyd begryp nie) gekoester word op hierdie pad. Daar is ook plekke op die pad waar dit vir ons voel asof ons alleen loop en waar ons vaskyk in ons eie worstelinge.

Dit het ook met die Emmausgangers gebeur. Kleopas en sy reisgenoot het op pad huis toe vasgekyk in die verlies wat hulle op daardie oomblik ervaar het. Hulle het waarskynlik alleen en verlate gevoel. Hulle het ’n anonieme reisgenoot op daardie stofpad gekry (ons weet dit is Jesus) wat hulle hieroor uitgevra het, en ons hoor hoe hulle die seer van Jesus se kruisiging, en hul hoop wat teleurgestel is, verwoord. Hulle kan net nie verby hul eie seer en worsteling op daardie stofpad kyk nie.

Wanneer hulle by die huis in Emmaus aankom, neem hul anonieme reisgenoot brood, vra die seën daarvoor, breek dit en gee dit vir hulle aan. Dis dan dat hulle verby hul seer kyk en hul Hoop, lewend, voor hul oë sien. In net vier dade, wat ons herinner aan die dade wat by die Nagmaal teenwoordig is, gaan hulle oë oop en besef hulle dat hulle toe al die tyd nie alleen op die stofpad was nie. Daar was toe, al die tyd, baie meer in hierdie Reisgenoot van hulle. Jesus het saam met hulle op daardie stofpad van die lewe geloop.

Hy loop ook saam met ons. Gaan hou ons ooit stil op die stofpad van ons lewens om Jesus se “hierwees” te beleef? Mag ons dit in die Nagmaal ervaar, maar ook elke ander dag van ons stofpadlewens.

Ds Steve Oxton, Wapadrant

Share via
Copy link
Powered by Social Snap