Jesaja 43: 1-7

Moenie bang wees nie! Vrees kan vernietigend wees. Dit stroop ons van lewensgenot, energie en selfvertroue. Soms kan dit selfs patologies wees – en dan benodig ons terapie. Daar is ook elke dag se rasionele vrese wat noodsaaklik is vir ons veiligheid waarmee ons dikwels moet saamleef. Dan is daar is ook baie onnodige vrese wat erg destruktief op ons lewens kan inwerk. Vrese waarvan ons maar gerus ontslae kan raak. Dink maar aan vrees vir die onbekende; of vrees vir ’n emosionele verbintenis; of vrees vir teleurstelling; of vrees vir verwerping.

Soms kruip vrees weg agter ’n oënskynlik onverwante emosie en dan sukkel ons om dit as vrees te herken. Bekommernis is verskuilde vrees – vrees vir die toekoms. ’n Minderwaardigheidsgevoel is soms verskuilde vrees – ’n vrees vir wat ander mense van my dink. Erge spanning kan dikwels teruggevoer word na ’n vrees vir mislukking. ’n Oormatig kritiese ingesteldheid teenoor ander is ook die gevolg van vrees – die onderliggende vrees dat mense gaan agterkom dat ek eintlik nie eg is nie, nie is wat ek voorgee om te wees nie. Diegene wat so haastig is met hul oordele en veroordeling verdoesel heel moontlik hul eie vrees om uitgevang te word.

Daardie vreesagtige gevoel gaan nog al ons drome verwoes. Raak ontslae daarvan – raak vry. Ons kan tog nie so aangaan nie. Vervang vrees met geloof. Geloof kan die vrees permanent verdryf. Vrees vergeet van God; geloof weet God is altyd daar. Vrees klou vas aan die bekende; geloof tree soms uit die lig na die donker, juis om lig in die donker te wees. Vrees is onbuigsaam; geloof pas aan. Vrees is passief; geloof is aktief. Vrees en bekommernis is beste vriende; geloof en bekommernis is grootste vyande. Vrees slaan gereeld hand aan die ploeg en kyk terug; geloof laat die verlede in die verlede en kyk vorentoe. Vrees omarm die leuen; geloof verkies die waarheid. Vrees laat mense verwelk; geloof laat mense blom.

Eintlik hoef ek niks te vrees nie behalwe vrees self.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

af
af
Copy link