Markus 9: 10: 

Dié uitspraak hou besondere belofte in. Jesus ondervra die dissipels oor wie mense sê Hy is en wat hulle standpunt oor Hom is, gevolg deur ’n vermaning om niemand oor Hom te vertel nie. Dit gaan nie daaroor dat Jesus die Messias is nie, maar oor wat Hy as Messias gaan doen, en wat aan Hom gedoen gaan word. Die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak word, om na drie dae weer op te staan (Mark 8: 31). Die beklemtoning dat dit moet, dui God se bedoeling aan. Die gedeelte dui ook op ’n oorgang van die eerste gedeelte van die Evangelie waar Jesus se mag prominent is, na die tweede helfte waar Hy oënskynlik swak is. Hier blyk ook die besondere uitdaging om ’n dissipel te wees, naamlik om jouself te verloën en jou kruis op te neem, gevolg deur die rare aanduiding dat lewensbehoud oënskynlik in lewensverlies bestaan.

Opnuut kom die aanduiding na vore dat die toekoms bepalend is, met die onuitgesproke belofte dat om jou lewe aan God te skenk, daarop uitloop dat die ewige lewe ontvang word, dit wat God aan die einde skenk. Daar is egter ’n waarskuwing dat iemand wat skaam is vir Jesus en sy woorde, dieselfde skaam-wees-reaksie van die Seun van die mens sal ontvang wanneer die heerlikheid van sy Vader kom. 

Die uitspraak van Markus 9: 1 verwoord egter ’n ongelooflike belofte wat nie ver en in die toekoms gesien word nie, maar nog in hierdie lewe. Dit het nie gedui op ’n spoedige wederkoms soos in sekere kringe verwag is nie. Soos ’n moeder uitsien na die geboorte van haar kind, of die landbouer na die oes as hy gesaai het, word hierin ’n belofte gemaak van die koningsheerskappy van God wat met krag sal kom, in Jesus se kruisiging en opstanding.

Dit is bepalend vir kerk en geloof, almal daar ver, maar ook vir almal hier naby, vir my en vir jou. Die Koning regeer, Jesus is Here.

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

af
af
Copy link