Levitikus 17: 10 en 11

Ek weet nie of dit al met jou gebeur het nie. Dalk by die werk. Of in jou vriendekring, of waar die familie bymekaar is. Iemand dig woorde aan jou toe wat jy nooit gesê het nie. Of verdraai die bedoeling van dit wat jy gesê het, deur jou buite konteks aan te haal. Jy wil skree: Nee man, dis nie wat ek gesê het nie! Of: Dit is allermins wat ek bedoel het!

Tog doen ons dit baie keer met God. As ons sy Woord sommer lukraak uitlê, plaas ons dikwels woorde in sy mond wat Hy dalk nooit eens gesê of bedoel het nie!

Vir gelowiges is wat God dalk oor ’n bepaalde saak sou sê, baie belangrik. As ons egter wil sê So spreek die Here, dan is dit nodig dat ons sal poog om Skrifgedeeltes te verstaan soos wat die oorspronklike skrywer dit bedoel het. Wat God sê, het immers implikasies vir gelowiges se lewens.

So, byvoorbeeld, is baie gelowiges al na ’n vroeë graf omdat hulle in alle opregtheid geglo het dat God bloedoortappings verbied. Levitikus 17: 10 en 11 verwys daarna dat bloed nie geëet mag word nie, omdat die siel van die vlees (OAV) in die bloed is. Heidene het met afgodsfeeste diere se bloed gedrink en geglo dat hulle die lewenskrag van die diere sou kry. Dit is hierdie heidense bygeloof waarteen die Here die volk wil waarsku.

God word deur soortgelyke twyfelagtige Skrifuitleg ingesleep om kwetsende waardes en (by)geloof in stand te hou. Ons veroordeel mekaar graag in God se Naam. Ouers veroordeel kinders se musiek, haarstyl en kleredrag; vroue is eeue lank tot ondergeskiktheid aan die man verdoem; die dra van langbroeke sluit die hemel vir dames toe – om maar net ’n paar voorbeelde te noem. Om te sê So spreek die Here, bring ’n enorme verantwoordelikheid om die Bybel so uit te lê dat God self aan die woord kom!

Here, help my om niemand in u Naam te veroordeel nie. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link